Sommige inligting rondom eindtyd studies gaan oor INTERPRETASIE.

Daarom word verskillende interpretasies met die tyd bygevoeg waar geleerdes oor iets verskil, of somtyds word 'n verwysing gegee na 'n ander interpretasie - per geleentheid word 'n interpretasie verder bespreek.


Wys tans plasings met die etiket 7 seels. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket 7 seels. Wys alle plasings

Donderdag 15 Julie 2021

Die 2 getuies


Wie is die 2 getuies van wie ons lees in Openb. 11? 
  Wanneer presies gaan hulle hul verskyning maak?,
en Wat is hulle doel?
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Wat ons kan leer oor die 2 GETUIES in Openb. 11, is die volgende:
-  hulle word twee olyfbome  genoem (v.4);
-  hulle word twee kandelaars genoem (v.4);
-  hulle word  twee profete genoem (v.10).

Geleerdes redeneer al lank oor wie presies die 2 getuies van Openb. 11 is, maar die Skrif gee nie definitiewe sekerheid hieroor nie. Verwys hulle na die 2 gesalfdes/olyfbome in Sag. 4? Verwys hulle na persone of volke? 

Daar word heelwat afleidings gemaak van wie hulle is, bv., sommige beweer dat die 2 getuies verwys na Moses en Elia (Matt. 17:3; Mal. 3:1);  ander glo weer hulle verwys na Elia en Henog (Gen. 5:24); ander glo hulle verwys na die Hebreeuse volk en die Christelike kerk en vgl. hierdie 2 groepe dan met die "olyfbome en kandelare";  en sommige glo selfs dat een vd twee na Daniel verwys (Dan. 12:13)....  Niemand kan egter op hierdie stadium met sekerheid sê wie presies die 2 getuies is of sal wees nie. Ons weet wel dat dit verwys na 2 getuies en profete, en dat hulle buitengewone mag sal kry, en weet ook wanneer hulle sal optree.
=======================================================================
Wat is die doel/sal die doel wees van die 2 getuies?
Dit wil voorkom of hierdie 2 getuies nie net sal getuig en profeteer nie, maar sal ook iets soos "oordele" kan uitoefen, bv. hulle sal mag kry om die wat hulle probeer beskadig te verslind (Openb. 11:5,6) - hulle sal ook mag hê om die hemel te sluit sodat in die dae van hulle profesie daar geen reën val nie; hulle sal ook mag hê oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae.... 

Die twee getuies is PROFETE en hulle doel is om te GETUIG (Openb. 11:3), en dit lyk of hulle gestuur word om die mensdom te waarsku teen die oordeel wat aan die kom is wanneer Jesus Christus, die Seun van God,  terugkom (want wanneer Hy terugkom sal dit anders wees as toe Hy die eerste keer gekom het, want toe Hy die eerste keer gekom het het Hy nie gekom om te oordeel nie, maar nou gaan Hy).  

Die 2 GETUIES (profete) sal dus:
 profeteer en getuig:- (Openb.11:3)  "En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend twee honderd en sestig dae lank sal profeteer".
 sekere magte kry:- (Openb. 11:5,6)  "En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier gedood word. Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil". 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Nog ander feite rondom die 2 GETUIES:
-  hulle sal getuig nadat die tempel opgerig is (Openb. 11:1);
-  wanneer die voorhof buitekant die tempel aan die heidene gegee is (wie die heilige stad dan vir 42 maande lank sal vertrap)(v. 2);
-  die 2 getuies sal met sakke bekleed wees (v.3);
-  die 2 getuies sal vir 1260 dae lank profeteer (v.3).
 
Wanneer presies is die dae van hulle getuienis?
-  Een feit wat beslis vir ons geleer word van die tyd wanneer hulle gesien sal word (met sakke bekleed en getuig), is dat dit sal geskied NADAT DIE TEMPEL OPGERIG IS (kyk v. 1 hoe die tempel opgemeet word...).

Waar gaan die 2 getuies hierdie getuienis doen?
-  In die HEILIGE STAD. 
Hierdie feit word vir ons gegee in v. 2.  Die vraag is nou na watter stad "heilige stad" verwys?, en natuurlik is die antwoord JERUSALEM (wat altyd na verwys word as die heilige stad). Die stad Jerusalem was van altyd af so gesien, in "hierdie eeu" (Neh. 11:1,18; Dan. 9:24; Matt. 4:5), en sal ook so wees in die "volgende eeu" (Jes. 52:1) maar ook tot in ewigheid die "heilige stad" wees (nuwe Jerusalem)(Openb. 21:1,2). En alhoewel dit "groot stad" genoem word in v. 8, asook daar geestelik genoem word "Sodom en Egipte" (vgl. miskien met Jer. 23:14), verklaar v. 8 dat dit DIE STAD IS WAARIN ONSE  HERE GEKRUISIG IS. (Openb. 11:8 - "en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is") - so dus, Jerusalem!

------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Verdere opmerkings oor die 2 getuies, en interpretasies:
Selfs die vgl. wat gemaak word dat die 2 getuies verwys na 2 gesalfdes in Sag. 4:11, is ook slegs interpretasie.-(Sag. 4:11,12 - "Daarop het ek begin spreek en aan hom gesê: Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regterkant van die kandelaar en aan die linkerkant daarvan? En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van die ganse aarde staan").  Daar kan beslis waarde geheg word aan die verskillende interpresties, maar ons moet versigtig wees om leringe te bou hier rondom siende dit verdraaide leringe tot gevolg kan hê sou 'n interpretasie verkeerd wees.

Een interpretasie waarin baiemaal ingekyk word is die waar die woord "kandelaar" (wat in Openb. 2 in beeldspraak gebruik word vir Christelike kerke) in aanmerking geneem word. ((Openb. 2:1)  "Skryf aan die engel van die gemeente in Éfese: Dít sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars"... En dan v.5: "Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie. Vgl. dit ook met: (Openb. 1:20 - "die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes").  In hierdie skrifgedeelte is dit bv. duidelik dat die woord "kandelaar" gebruik kan word vir "gemeente", en 'n afleiding kan maklik gemaak word dat die een kandelaar verwys na bv. die Christelike kerk en die ander na die Joodse volk (siende die 2 getuies "kandelaars" genoem word), maar neem kennis dat die 2 kandelaars (of getuies) in Openb. 11 ook 2 profete genoem word en dus miskien eerder verwys na 2 persone, nie groepe nie;  alhoewel sommige ook nie hierdie as 'n probleem beskou nie siende beide die Joodse volk en die Christelke kerk gesien word as 'n "profetedom". Die feit dat hulle doodgemaak word en na 3 dae opgewek word, kan miskien ook vgl. word met gelowiges wat doodgemaak word en opstaan uit die dode wanneer Christus terugkom.  OP DIESELFDE WYSE kan daar gekyk word na die term "2 olyfbome" (Openb. 11:4 verwys bv. na die 2 getuies as die "2 olyfbome"). Daar is ook 'n bepaalde beeldspraak oor olyfbome in die skrif. Die volk Israel word bv. voorgestel as 'n olyfboom (Hos. 14:6; Rom. 11:24).  Dawid het homself gesien as 'n groen olyfboom in die huis van God... (Ps. 52:8). (Jer 11:16 - "Die HERE het jou die naam gegee: groen olyfboom, skoon deur mooi gevormde vrugte; maar by die geluid van ‘n groot gedruis het Hy ‘n vuur daarteen aangesteek, en sy takke het gebreek"). Hulle is soos 'n boom wat deur die Here geplant is, maar omdat hulle nie na Sy woorde geluister het nie (Jer. 11:3) het Hy onheil oor hulle gebring (v.11) en die ongelowige takke is afgebreek (Rom. 11:20) en plek is gemaak vir ander takke wat uit die heidene kom (Rom. 11). Die heiden word voorgestel as 'n wilde olyfboom in Rom. 11:17.  Heidene wat tot geloof kom word afgekap van die wilde olyfboom en ingeënt op die mak olyfboom (word deel vd nageslag van Abraham)(Rom. 11:24)... Dit is a.g.v. hierdie soort beeldspraak waarom sekere geleerdes van mening is dat die 2 olyfbome in Openb. 11 verwys na :
-  die volk Israel, en na
-  die Christene uit die heidene;  maar ander sal redeneer dat Christene uit die heidene nie werklik verwys na 'n ander olyfboom nie maar hulle word eerder  ingeënt op die mak olyfboom (die volk Israel) - dus deel vdaardie boom...  Maar soos ons sien is hierdie alles afleidings en vergelykings, en slegs een van die vele interpresies daarbuite.

Die siening dat hierdie "2 olyfbome" of "kandelaars" verwys na die gelowiges uit die volk Israel en na die Christene uit die heidene, word deur die meerderheid bevraagteken siende die 2 getuies op 'n baie spesifieke manier voorgestel word (bv. met sakke bekleed) in Openb. 11 wat lyk of dit eerder verwys na 2 letterlike mense, 2 PROFETE - en nadat hulle doodgemaak is het hulle LYKE op straat gelê... (Openb. 11:9). Meeste is van mening dat die 2 getuies dus na 2 persone verwys (nie 2 groepe nie).

Die waarheid is dat niemand op hierdie stadium sekerheid het oor wie presies die 2 getuies is in Openb. 11 nie. 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------


OPSOMMING:
-  Niemand weet presies wie die 2 getuies gaan wees nie (maar daar is heelwat interpretasies);
-  Hulle gaan profete wees en mag kry (om sommige oordele uit te voer);
-  Hulle sal optree in die dae NADAT die tempel gebou is (in Jerusalem).  Interpretasies verskil egter oor wanneer presies dit gebeur onder die 7 seels, wat beteken dat daar nie sekerheid is oor of die 2 getuies sal optree tydens die Groot Verdrukking, en of dit 'n aparte periode van 1260 dae gaan wees vd 42 mnd.e, en of hierdie periodes mekaar gaan oorvleuel nie. 


Donderdag 21 Mei 2020

EERSTE SEëL

IN HIERDIE EN DIE VOLGENDE PAAR POSTE word gekyk na DIE 7 SEëLS (van Openbaring), en dit word vgl. met ander eindtydskrifte. Sodoende kyk ons na die hele Skrif in konteks, nie net na een skrifgedeelte nie, en verhoed dat daar verkeerde interpretasies gemaak word. Natuurlik is daar altyd onbeantwoorde vrae wanneer dit kom by eindtydstudies, maar kom ons kyk wat die Skrif wel vir ons leer. Alhoewel ons eerder besig moet wees om die evangelie te verkondig, moet ons verstaan dat dit wat in die laaste dae gaan gebeur ook in die fondament van evangelie-prediking ingebou is, bv. die feit dat die Here Jesus Christus met Sy wederkoms alle ander wereldryke gaan verbrysel en 'n koninkryk gaan verwek wat vir ewig bestaan!  Kyk bv. ook die temas van "ewige oordeel", "die opstanding", "geloof"... ens. So ja, 'n studie oor eindtye en laaste dae is belangrik! Dit is ook belangrik dat ons ons vereenselwig met die skrifte hieroor sodat ons kan onderskei tussen die ware en die valse, of dit wat slegs afleidings is - en ook nie net kyk na sekere skrifgedeeltes nie, maar die Skrif in geheel.

Ons moet ook vra of die "volgorde van eindtydgebeure" regtig belangrik is?  As ons kyk na hoe Jesus eindtydgebeure in 'n spes. volgorde vertel het (kyk bv. skrifte oor die laaste dae in die Evangelies) dan moet dit tog belangrik wees, ja (dus belangrik om te weet). Net so kan ons kyk na gebeure in volgorde in die boek van Openbaring - dit is duidelik die Here se wil dat ons die volgorde ken (anders sou Hy dit nie vir ons gegee het nie) - en o.a. belangrik sodat ons die tekens van die tye kan onderskei... Dit is ook interessant om te merk dat die volgordes oor eindtye in verskillende skrifgedeeltes (bv. die gebeure soos Jesus dit geskets het, en die gebeure soos Johannes dit gesien het, en ook ander eindtydskrifte), met mekaar ooreenstem!  
----------------------------------------------------------------
In hierdie pos gaan ons kyk na: 
- Die tyd van die "eerste seël"; en
- die tyd wat Jesus beskryf as hoe die "einde van dae" sal begin.

Gewoonlik word die eerste seël tydperk gesien as die tyd wanneer die laaste dae begin, maar na regte is "laaste dae" 'n begrip wat alreeds gebruik word vanaf die tyd vd eerste gemeentes (asof ons al vir die afgelope 2000 jaar in "die laaste dae" is!)(Hand. 2:17-21; Hebr. 1:1). Bestudeer gerus hierdie pos om dit beter te verstaan: http://eindtydonderwerpe.blogspot.com/2020/04/eindtyd-die-einde-laaste-dae.html. 

  =================================================================
Opsomming:
(sien uiteensetting en skrifte onder)

*Eerste Seël      -  (Openb. 6:1,2)  -  (WIT PERD) - "oorwinnaar"

*Valse Christusse -  (Matt. 24:4,5)
                  -  (Mark. 13:5,6)
                  -  (Luk. 21:8)

(1)  Daar sal baie VALSE CHRISTUSSE wees;(volgens die EVANGELIES: Matt. 24:4,5; Mark. 13:5,6; Luk. 21:8) Volgens Jesus se leringe oor die eindtye, skop dit af met die Here Jesus se waarskuwing teen "valse Christusse". Baie sal mislei word deur hierdie "valse Christusse";  -dit is ook in hierdie konteks waarin die woorde "die tyd is naby" (Luk. 21:8) verkeerd gebruik word deur baie, want in hierdie konteks beteken die woorde "die tyd is naby" dat Christus amper hier is, terwyl dit dan nie so is nie - so iemand aanvaar 'n valse Christus omdat hy die Here vroeër verwag as wanneer Hy regtig kom;  bv. die lering van 'n "wegraping voor die groot Verdrukking" skep so 'n miskonsepsie by mense, in die dat hulle glo dat die Here vroeër terugkom as wat regtig gaan gebeur - so iemand kan maklik 'n valse Christus aanvaar omdat hy glo dat "die tyd naby is", terwyl dit dan nie is nie!  Die verskyning van valse Christusse is nie iets nuuts nie en in die geskiedenis was daar al baie wat hulleself voorgedoen het as die Messias. Alhoewel "valse Christusse" lyk of dit ook een van die tekens sal wees wat die einde van dae (van "hierdie eeu") afskop, beteken dit nie dat dit nooit 'n verskynsel was in die verlede nie, net so was daar al baie antichriste in die wêreld (1 Joh. 2:18). Dus, nie elke keer wanneer 'n valse christus of antichris kop uitsteek is ons in die einde van dae van "hierdie eeu" nie, maar dit is een vd tekens;  en daar is 'n volgorde wat daarna volg...
---------------------------------------------------------------------------------------------

(2)  in hierdie pos VERGELYK ons PUNT 1 MET die EERSTE SEëL VAN OPENBARING (asof die einde van dae van "hierdie eeu" daarmee afskop):  
(Openb. 6:1,2) (wit perd)- "oorwinnaar") 

Wat die wit perd aanbetref, verskil geleerdes oor die interpretasie daarvan. Dit is miskien interessant om te merk dat die "wit perd" (oorwinnaar) nie noodwendig net verwys na "iemand" spesifiek nie, siende met die volgende drie seëls dit wil voorkom of die perde elke keer na "iets" verwys bv. oorloë, aardbewings, hongersnode, ens. (alhoewel hulle ook telkens na iemand kan verwys asof hierdie gebeure dan net op dieselfde tyd plaasvind...).  Tog lui die woorde in Openb. 6:2 is so 'n mate dat dit wil voorkom of die wit perd na "iemand" verwys - (Openb. 6:2 - "En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit perd. En hy wat daarop sit, het ‘n boog; en aan hom is ‘n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin").
So ons sien dat hierdie oop is vir interpretasie. Wat wel seker is van hierdie tydperk is dat dit gekenmerk word deur 'n "oorwinnaar" (wat oorwin), en dit wil ook voorkom of dit 'n tyd van VREDE is want in die volgende seël word die vrede vd aarde af weggeneem. In daardie opsig kan die wit perd miskien verwys na 'n organisasie of koninkryk wat vrede tussen almal bewerkstellig, nie noodwendig iemand spesifiek nie. 

En as hierdie op dieselfde tyd val as dit wat Jesus beskryf as wat die laaste dae afskop, dan is "valse christusse" ook kenmerkend van hierdie tyd. 

Sommige geleerdes is van mening dat die "oorwinnaar" in Openb. 6:2 verwys na wat hulle noem "die Antichris" bedoelende die "dier" in Openb. 13 of die "seun vd verderf" (die teëstander) genoem in 2 Thess. 2:3,4. 
En sommige is van mening dat die wit perd na Jesus verwys en plaas die eerste seël op 2000 jaar gelede. So ons sien dat daar maar min inligting gegee word oor DIE WIT PERD vd eerste seël in die Skrif, en vele interpretasies.  

========================================================================

(3)  Die tydperk van die eerste seël kan miskien gesien word as 'n tydperk van "vrede", omdat onder die tweede seël daardie "vrede weggeneem word van die aarde" (dus moes daar sg. vrede wees vir dit om weggeneem te word!). 

Volgens 1 Thess. 5:3 sal daar 'n sg. "vrede en veiligheid" op die aarde wees voor Jesus se wederkoms, maar l.w. dat dit miskien nie na dieselfde tydperk verwys as die eerste seël nie, siende dit verwys na 'n tyd net voor Jesus se wederkoms, en Sy wederkoms vind eers onder die 7de seël plaas (en Sy wederkoms oorval hulle soos 'n dief in die nag)(terwyl onder die tweede seël die vrede wat onder die eerste seël was, weggeneem word) - miskien is hierdie "vrede en veiligheid" onder die regering van die "dier", wat dan beteken dat die aarde "stil en rustig" sal wees maar 'n valse vrede. En l.w dat vir die aarde om "stil en rustig" te wees nie beteken dat almal vry is nie - kyk bv. Sag. 1:11-15 - die aarde was bv. stil en rustig terwyl die volk van God in ballingskap was!  Dit het dus gelyk soos vrede, maar dit was nie regtig "vrede" nie. Hierdie vrede en veiligheid in 1 Thess. 5:3 kan dus net sowel verwys na die groot verdrukking onder die 5de seel wat miskien gepaardgaan met 'n valse vrede. 

Dit wil ook nie sê dat daar reeds vrede al is wanneer die eerste seël begin nie, maar dit kan wees dat die sg. "oorwinnaar" iets daarmee te doen het waarom daar "vrede" op die aarde kom...  

=================================================================================

Skrifgedeeltes:


*  (Openb. 6:1)  En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van ‘n donderslag: Kom kyk!
(Openb. 6:2)  En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit perd. En hy wat daarop sit, het ‘n boog; en aan hom is ‘n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin.

---------------------------------------------

*  (Mat 24:4)  En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie.
(Mat 24:5)  Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
----------------------------------------------

*  (Mar 13:5)  En Jesus antwoord hulle en begin te sê: Pas op dat niemand julle mislei nie.
(Mar 13:6)  Want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! En hulle sal baie mense mislei.
----------------------------------------------

*  (Luk 21:8)  En Hy antwoord: Pas op dat julle nie mislei word nie; want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! en: Die tyd is naby! Gaan dan nie agter hulle aan nie.

---------------------------------------------------------------------------------

Dinsdag 09 Mei 2017

Wie oorwin, sal beklee word met wit klere

Openbaring 3:5 -"Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele".
In sekere kulture wys "wit klere" op iets figuurliks bv. "reinheid" en/of "goeie gedrag".  Dat die wat oorwin beklee sal word met wit klere, is wel letterlik, maar het beslis ook 'n figuurlike betekenis.  In Openb. 3:4 verwys die met wit klere juis na die wat nie hulle "klere besoedel het nie"! (m.a.w. "rein"-REIN LIGGAAM / REIN GEWETE)(http://warechristene.blogspot.co.nz/2016/10/rein-onrein-verontreinigingreinig.html).  Die BELOFTES is bedoel vir die wat REIN is en daarom GEHEILIG (afgesonder) is.  Dit is slegs die wat die wil van die Vader doen wat gesien word as Jesus Christus se familie (Matt. 12:50).  Dit is ook slegs die wat Hom gehoorsaam wat Sy vriende genoem kan word (Joh. 15:14). Die manier hoe die kind van die Here bewys dat hy heilig is, is deur homself te onderwerp aan die wil van die Gees en so dus NIE homself te verontreinig nie... Om "vry te wees in die Gees" beteken bv. nie dat jy vry is om te doen wat jy wil nie!, maar eerder dat jy vry is van dooie werke en vry van sonde OMDAT jy doen wat die Gees wil! (Rom. 8:2; 2 Tim. 1:7).
-----------------------------------------------------------------------------
Openb. 3:4 gee vir ons die rede waarom sekere gelowiges "wit klere" sal kry:
-"OMDAT HULLE DIT WAARDIG IS" (http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/05/wat-het-jesus-bedoel-met-aan-hom-wat.html).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Ons lees verder van WIT KLERE in Openb. 6:9-11 in die tyd vd 5de seel: "En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees". Die 5de seel tydperk word vgl. met die tyd vd Groot Verdrukking.  In hierdie geval was die met wit klere, die mense wat doodgemaak is ter wille van hulle geloof.  (Kyk bv. die woorde in Openb. 6:9, "...die siele vd wat gedood is ter wille vd woord van God en die getuienis...").  Ons vind dieselfde soort verwysing in Openb. 7, waar die met wit klere verduidelik word as "die wat uit die groot verdrukking kom", en word verder verklaar dat hulle "HUL KLERE GEWAS HET EN WIT GEMAAK HET IN DIE BLOED VD LAM".
Openb. 7:9-17:
"Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met WIT KLERE en met palmtakke in hulle hande;en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam! En al die engele het rondom die troon en die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan, en hulle het voor die troon op hulle aangesig neergeval en God aanbid en gesê: Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid! Amen. Toe het een van die ouderlinge gespreek en vir my gesê: Hulle wat bekleed is met die WIT KLERE, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom? En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.  Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee".   Die Groot Verdrukking op die gelowiges, waarna Christus ook verwys het in Matt. 24:21, moet nie verwar word met God se oordele (God's wrath) later in die boek van Openbaring nie! (http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2015/07/die-geklank-van-die-basuin.html).  Alhoewel Christus in Matt. 24 spesifiek verwys het na die in Judéa, leer Openb. 7 ook vir ons dat die Groot Verdrukking nie beperk is tot een nasie nie, maar mense "uit alle stamme, nasies, volke en tale... 

"Wit klere"  wys dus ook hier op reinheid (m.a.w., "nie besoedel nie" - omdat hulle gewas is in die bloed van die Lam).  Nie almal sal waardig wees om wit klere te ontvang nie! - (Openb. 3:4 - "Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in WIT KLERE wandel, omdat hulle dit waardig is") - Kyk ook Openb. 3:18 - "Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en WIT KLERE, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien".  REEDS VAN GENESIS AF HET DIE TEMA VAN "NAAKTHEID" 'N BESONDERSE BETEKENIS IN DIE SKRIF.  Die geestelike betekenis van naaktheid gaan oor SKAAMWEES en VERNEDERING (Openb. 16:15; 2 Kor. 5:3; Hand. 19:16; 1 Kor. 4:11; Hos. 2:3; Jes. 20...), weens ontbloting (en net soos iemand skaam is wanneer hy ontbloot word en dus naak is, so veroorsaak sonde dat ons skaam word wanneer die sonde ontbloot word en ons voel "naak"). As iemand kaal uitgetrek is, dan staan hy heeltemal bloot vir almal om te sien. As iemand nie sy klere bewaar nie, dan sal hy hom eendag in hierdie skaam naakte posisie bevind... (Openb. 16:15). Almal sal geoordeel word, en die wat nie hulle klere bewaar nie (M.A.W. die wat "BESOEDEL" is) sal hulleself kaal bevind en hulle geheime sal ontbloot word: - (Openb. 16:15 - "Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie").  Baie stap rond soos mense sonder klere - hierdie beeldspraak word gebruik in Openb. 3 waar die gemeente van die Laodicense aangekla word dat hulle "lou" is.  Hulle dink dat hulle ryk is en aan niks gebrek het nie, maar is voor die Here soos mense wat nie klere het nie en is NAAK (vgl. met Jak. 5:1-7) (en reeds van Genesis af het ons geleer dat SONDE die oorsaak is hiervan!).

"Wit klere" verwys na die wie se klere nie besoedel is nie (Openb. 3:4; Openb. 7:13,14) en die wat oorwin het (Openb. 3:5).(Lees gerus meer oor die tema van "naaktheid" op die volgende pos: http://warechristene.blogspot.co.nz/2017/01/gemeenskap-vleeslike-gemeenskap.html).

In konteks gesien Openb. 3:4, handel dit oor mense in die gemeente wie se werke nie volkome voor God gevind is nie, maar daar was ander wat wel waardig was.  Die brief begin waar Jesus se, "Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood" - DUS is nie almal in die gemeente waardig om die wit klere te dra nie, maar net sommiges!  Kyk ook Openb. 3:18 - "Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie....".  Die wat in hierdie skrifgedeeltes gesien word as "besoedeldes", is die wat hulle hoop plaas in rykdom en besittings, asook die wat voorgee dat hulle die Here ken, maar Hom nie werklik KEN nie. Hulle het nodig om hulle te bekeer sodat hulle rein kan word, en sal dan ook in die ry kan staan vir "wit klere"...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

OM OP TE SOM:

Vir die mens om WAARDIG TE WEES, en beklee te word met WIT KLERE, moet hy:

-  Jesus Christus bely en bereid wees om verdruk te word, of te ly ter wille van Sy Naam (Openb. 6:9; 7:14);
-  bekeer en ag gee op die pad van godsaligheid (http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2015/10/die-godsaligheid.html), sodat hy gewas kan word deur die bloed van die Lam (http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/wat-beteken-dit-om-tot-bekering-te-kom.html)(Openb. 3:3,18); 
-  glo, en sy hoop plaas in die Here - m.a.w. sy klere bewaar (Openb. 16:15) en alle vorme van afgodsdiens afle, o.a. gierigheid (Openb. 3:17; Jak. 5:2; 1 Pet. 3:3); 
-  moet nie net die naam he dat hy lewe nie (Openb. 3:1), maar regtig die Here KEN en GEHOORSAAM (Joh. 15:14; Openb. 16:15).
______________________________________________________