Sommige inligting rondom eindtyd studies gaan oor INTERPRETASIE.

Daarom word verskillende interpretasies met die tyd bygevoeg waar geleerdes oor iets verskil, of somtyds word 'n verwysing gegee na 'n ander interpretasie - per geleentheid word 'n interpretasie verder bespreek.


Maandag 12 Desember 2022

Die 144 000

Die 144000 van wie gepraat word in Openb. 7 en 14 word oor die algemeen gesien as dieselfde groep (en word ook in hierdie pos as ditto groep hanteer).  

Die 144000:

- is mense (Openb. 14:3,4 - gekoop uit die "mense" as eerstelinge/is vd aarde vrygekoop);

- is almal mans (want Openb. 14:4 leer dat hulle hulself nie met vroue besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein);

- kom uit die stamme van Israel (Openb. 7:4 verklaar dat die 144000 "uit die stamme van Israel is, en in v. 5-8 word vertel hoeveel uit elke stam, en watter stamme);

- is (vry)gekoop as eerstelinge vir God en die Lam (Openb. 14:3,4 - soos "eerstelinge van 'n groep" gegee word vir die Here / hulle is m.a.w. geroep/eenkant gesit vir 'n spesifieke doel, soos die eersgebore seuns onder volk / priesterdom);

- word verseël - seël van die lewende God op hulle voorhoofde (het Naam vd Lam en van sy Vader op hulle voorhoofde)(Openb. 7:3; 14:1);

- sal die Lam volg waar Hy ook heengaan (Openb. 14:4 - "hulle volg die Lam" - is in Sy diens; dus verwys hulle almal na kinders van Israel wat in Jesus Christus glo);

- hulle is soos mense sonder gebrek voor die troon van God, en in hulle mond is daar geen bedrog gevind nie (Openb.14:5);

- hulle deel 'n nuwe lied wat niemand anders kan leer nie (Openb. 14:3);

- hulle sal beskerm word onder die gebeure vd 7de seël (Openb. 7:1-3).

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------Waarna verwys die verseëling?

Ons sien 'n "verseëling" vd 144000 in Openb. 7 (tussen die 6de en 7de seel), en volgens Openb. 7 is een vd redes waarom hierdie 144000 verseël word, sodat hulle beskerm kan word onder die oordele wat volg onder die 7de seël... Ook in Openb. 14 word daar na die 144000 daar verwys as "verseëldes", want volgens Openb. 14 (laaste/7de basuin onder die 7de seël) sal die Lam op die berg Sion staan " en saam met Hom 144000 met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe..." (Openb. 14:1) - dit is duidelik dat Jesus teen daardie tyd al teruggekom het, en hierdie 144000 VERSEëLDES sal Hom volg waar Hy ookal gaan... Maar wat presies is hierdie "verseëling"?  Dit is nie duidelik of dit 'n fisiese gebaar sal wees nie, maar word deur baie so gesien.  

Weergeborenes is ook "verseël", verseël tot die dag van verlossing... (verseël deur die Heilige Gees / m.a.w., hulle het die Heilige Gees ontvang en word deur die Heilige Gees in bewaring gehou tot die dag van verlossing wanneer hulle nuwe liggame kry), maar hulle verseëling is duidelik nie fisies nie, alhoewel hulle verandering deur die Heilige Gees duidelik sigbaar is! ("nuwe mens" - op daardie manier is dit eintlik sigbaar). Kan dit wees dat die verseeling vd 144000 verwys na die feit dat hulle die Heilige Gees sal ontvang?, want dit is sekerlik so dat hierdie 144000 die Heilige Gees sal ontvang want hulle "glo immers in Jesus Christus"! (en Hy het die Gees belowe aan die wat in Hom glo)... - sommige geleerdes is van mening dat dit presies is waarna hierdie "verseeling" verwys,  maar dit kan wees dat die verseëling wat die 144000 sal ontvang ook 'n meer fisiese gebaar sal wees (?)... (bv. soos skrif wat op die lyf gedra word, ens.)(kyk bv. die woorde in Openb. 7:3 "op hulle voorhoofde").  Bestudeer gerus die interessante onderwerp van "die besonderse betekenis van regterhand" (waaronder ook o.a. gekyk is na die teken of merk (seël) vd dier). 

Sommige geleerdes is van mening dat weergeborenes (wat terloops "verseël is deur die Heilige Gees") ook beskerm sal word in daardie dae, alhoewel die weergeborene se verseëling meer 'n verwysing is na "beskerm vd tweede dood". Interessant om te merk dat sekere gebeure onder die basuine en skale onder die 7de seel, spesifiek oordele is wat uitgevoer word op die met die merk vd dier, of die wat nie die seel van God het nie...;  o.a. sal onder die 5de seel, sal die wat nie die seel van God het nie vir 5 mnd.e gepynig word. Ons moet egter nie hierdie oordeel/wraak onder die 7de seël verwar met die groot verdrukking (soos sommige doen) nie!  Weergeborenes sal wel ook deur die Groot Verdrukking geraak word (Openb. 12:17), maar sal soos die 144000 bes moontlik beskerm word later onder die 7de seel (omdat hulle verseel is deur die Heilige Gees)(l.w., spesifiek verwysend na "die wat NIE die merk van die dier het nie"...(Openb. 9:4)).

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------Wanneer sal die verseëling plaasvind?

In Openb. 7 kry ons die VERSEëLING VD 144000 wat die 6de seël opvolg... (kyk hoe 6de seël in Openb. 6:12-17 beskryf word, en dan die volgende hfstuk..., kyk die woorde 7:1 "En ná hierdie dinge", m.a.w., die verseëling vind plaas na die 6de seël gebeure (en is dus duidelik NIE in die tyd vd groot verdrukking of net voor dit nie).  Sommige kerke leer dat die 144000 se doel is om in die tyd vd groot verdrukking te evangeliseer, maar die skrif leer dat hierdie verseëling eers plaasvind na die 6de seël!;  en terloops beskryf Openb. 7 verder ook die groot menigte (dooies) wat "uit die groot verdrukking kom" (hierdie dooies word hier gewys omdat die groot verdrukking verby is);  m.a.w., teen die tyd wat die 144000 verseël word is die Groot Verdrukking duidelik al verby... Die verseëling vd 144000 sal dus eers gebeur na die Groot Verdrukking, en nadat die 6de seël gebeure afgespeel het... (m.a.w., groot verdukking, en dan die 6de seël gebeure nl., son swart, maan bloed, groot aardbewing, sterre val, hemel wyk weg, berge/eilande versit, ens., - gebeure wat die 7de seël voorafgaan). Dit wil dus voorkom of die verseëling vd 144000 sal plaasvind tussen die 6de en die 7de seël... (Openb. 6:12-17; 7:1-8)(Matt. 24:29).  

Nog 'n verwysing na die 144000 is in Openb. 14 (onder die 7de basuin, onder die 7de seël) - die Lam sal op die berg Sion staan " en saam met Hom 144000. Hierdie vind plaas onder die laaste basuin onder die 7de seël, terwyl die verseëling in Openb. 7 plaasvind tussen die 6de en die 7de seël.  Volgens Skrif kom Jesus terug onder die laaste basuin onder die 7de seël (die wederkoms, dan vind die opstanding en wegraping plaas)(1 Kor. 15:52)(Matt. 24:29-31...). Openb. 19:11-16 beskryf ook gebeure wat lyk soos die wederkoms (en kan inderdaad beskryf word as deel van die tyd van wederkoms), maar l.w. dat daardie gebeure gekoppel is aan hoe die Here kom met Sy tienduisend talle om oordeel uit te voer... (m.a.w., "die slag van Armageddon", en dit word ook daar beskryf)(Openb. 19:17-21)(Jud. 1:14-16)  -  voor dit gebeur sal die Lam alreeds saam met die 144000 op die berg Sion gesien word... (en hulle sal Hom volg waar Hy ookal gaan). 

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------Gekoop as "eerstelinge":

Die 144000 word verder in Openb. 14 beskryf as die wat hulleself met vroue nie besoedel het nie want hulle is maagdelik rein, en hulle volg die Lam waar Hy ook heengaan - dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam... Dit wil dus voorkom of hulle vd aarde vrygekoop is om "priesters" te wees vir die Here. Hierdie 144000 word o.a. beskryf as mense "sonder gebrek" - in hulle mond is geen bedrog gevind nie.

Die 144000 se doel is m.a.w. dat hulle gekoop is as eerstelinge (soos eerstelinge uit 'n groep of van 'n oes). Hulle is (vry)gekoop uit die mense... (en almal kom uit stamme van Israel).  Om die begrip "eerstelinge" beter te verstaan, kan daar gekyk word na hoe dit in die Skrif gebruik word.  Bv., die woord "eerstelinge" kan ook na eersgeborenes van 'n land verwys (Ps. 78:51) - die volk Israel word bv. gesien as eerstelinge. In Jak. 1:18 word Christene eerstelinge van Sy skepsele genoem (maar let ook daarop dat die brief van Jakobus gerig is aan die 12 stamme wat in die verstrooiing is - Christene word deel vd groep van eerstelinge deurdat hulle ingedoop word onder die kinders van Abraham). Christene het die "eerstelinge vd Gees" (Rom. 8:23)... Vir 'n studie oor "eersgeborenes/eerstelinge", gaan na: http://warechristene.blogspot.com/2015/04/eersgeborenes-en-eerstelingepriesters.html. Volgens Joodse tradisie wil dit voorkom of die oudste seun oorspronklik die pligte van priester gekry het - die eergeborene moes aan die Here opgedra word sodat hy hierdie pligte kon uitvoer. Die eersgebore seun was dus die priester vd familie.  Die woord "priester" verwys na die een wat in beheer is, en gaan veral oor "verantwoordelikheid" - is 'n dienaar van God (Jes. 61:6). Die priester se plig was om die kennis te bewaar en 'n boodskapper te wees vir die Here - om Sy wil te ken en bekend te maak aan die res vd familie (m.a.w. "doen wat die Here wil"). Daarom kon die priester ook seëninge uitspreek... Die volk Israel word bv. ook gesien "as God se eersgebore seun, die EERSTELINGE van Sy opbrings (Jer. 2:3). Al die eersgeborenes onder die volk het aan Hom behoort, en as hulle nie hulle plig nagekom het nie, moet hulle vrygekoop word (sien die totstandkoming vd Levietiese priesterdom...). Die 144000 kan dus gesien word soos 'n priesterdom...

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------Die 144000 sal almal mans wees uit die stamme van Israel (Openb. 7:4; 14:4)
(12000 uit elke stam, alhoewel die stam van Dan nie genoem word nie, maar 2 keer 12000 uit die stam van Josef...). 

Kom ons kyk na hoe dit beskryf word in Openb. 7.  Dit wil voorkom of die verseeling in Openb. 7 plaasvind tussen die 6de en 7de seel (nommers is hieronder ingesluit om te verwys na die 12 stamme van Israel/seuns van Jakob)

Openb. 7:1  En ná hierdie dinge het ek vier engele op die vier hoeke van die aarde sien staan, en hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat geen wind sou waai op die aarde of op die see of teen enige boom nie. 

Openb. 7:2  En ek het ‘n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met ‘n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig 

Openb. 7:3  en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie

Openb. 7:4  En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd vier en veertig duisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel 

Openb. 7:5  

- uit die stam van Juda twaalf duisend verseëldes(4)

-uit die stam van Ruben twaalf duisend verseëldes(1)

-uit die stam van Gad twaalf duisend verseëldes(7)

Openb. 7:6  

-uit die stam van Aser twaalf duisend verseëldes(8)

-uit die stam van Náftali twaalf duisend verseëldes(6)

-uit die stam van Manasse twaalf duisend verseëldes(tweede deel van 11)

Openb. 7:7  

-uit die stam van Símeon twaalf duisend verseëldes(2)

-uit die stam van Levi twaalf duisend verseëldes(3)

-uit die stam van Issaskar twaalf duisend verseëldes(9)

Openb. 7:8  

-uit die stam van Sébulon twaalf duisend verseëldes(10)

-uit die stam van Josef twaalf duisend verseëldes(11)

-uit die stam van Benjamin twaalf duisend verseëldes(12).

DIT IS INTERESSANT OM TE MERK DAT DIE "stam van Dan" GEENSINS VERSKYN ONDER HIERDIE GROEP VAN 144 000 NIE, MAAR DAAR TWEE GROEPE VAN 12 000 VERSKYN VIR JOSEF (nl. Josef en Manasse - Manasse was een van Josef se seuns). NS: Met die indeling vd beloofde land was daar ook 2 dele gegee aan Josef (dubbele porsie-Deut. 21:17) soos gewoonlik gegee is aan die eersgeborene, maar Josef was nie die eersgeborene nie - Ruben was, maar sy "eersgeboortereg" is weggeneem van hom omdat hy met sy vader se byvrou gemeenskap gehad het (Gen. 35:22), en dit is toe aan Josef gegee... (1 Kron. 5:1)(Lev. 18:8; 20:11; Deut. 27:20). Die verseëling vd 144000 kan dus ook miskien vgl. word met die tema van "erf" - ook in hierdie geval "erf" die stam van Josef 'n dubbele porsie (bv. in "eersteling" of priesterskap), maar anders as in die geval van die indeling vd land "erf" die stam van Dan niks hier nie;  m.a.w., geen mans uit die stam van Dan sal van die aarde vrygekoop word om deel te wees van hierdie "priesterdom"/eerstelinge/144000 nie, maar uit die stam van Josef sal 24000 vrygekoop word (waarvan 12000 uit die stam van Manasse).

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------Kom ons kyk ook na die skrifgedeelte in Openb. 14:  

Hierdie vind plaas onder die laaste basuin onder die 7de seël (net voor die 7 skale begin); terwyl die verseeling in Openb. 7 plaasvind tussen die 6de en 7de seël.  

Die 2 weë (5de en 6de basuin onder die 7de seel) is nou verby... (wat terloops eindig op die dood en opstanding vd 2 getuies); hierna, die 7 donderslae (wat nie vir ons neergeskryf is wat dit is nie), en dan die derde weë... (wat strek vanaf die 7de/laaste basuin onder die 7de seël). En wat nou volg is die res vd gebeure onder die 7de seël:  nl. die wederkoms (en hier sien ons nou die Lam met die 144000 op die berg Sion...), die opstanding/wegraping, 7 skale (waaronder "bose sere op die met die merk vd dier, see word bloed en wesens sterwe, riviere en waterfonteine word bloed, son skroei met vuur, die koninkryk vd dier verduister - pyne, swere, versameling by Armageddon, geweldige groot aardbewing"...), groot stad verdeel in 3 en stede vd nasies val, Babilon in gedagtenis gebring, eilande vlug en berge nie geving en groot hael,  die Val van Babilon , die Slag van Armageddon, dier en valse profeet word lewend in die vuurpoel gegooi, satan gebind vir 'n 1000 jaar..., ens.  

(Openb. 14:1)  En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom honderd vier en veertig duisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe.

(Openb. 14:2)  En ek het ‘n geluid uit die hemel gehoor soos die geluid van baie waters en soos die geluid van ‘n harde donderslag, en ek het die geluid gehoor van siterspelers wat speel op hulle siters.

(Openb. 14:3)  En hulle het ‘n nuwe lied gesing voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge; en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd vier en veertig duisend wat van die aarde vrygekoop is.

(Openb. 14:4)  Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam.

(Openb. 14:5)  En in hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek voor die troon van God.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking