Sommige inligting rondom eindtyd studies gaan oor INTERPRETASIE.

Daarom word verskillende interpretasies met die tyd bygevoeg waar geleerdes oor iets verskil, of somtyds word 'n verwysing gegee na 'n ander interpretasie - per geleentheid word 'n interpretasie verder bespreek.


Sondag 06 November 2022

Die (3de) Tempel

VIR 'N DAGSTUKKIE OOR DIE (DERDE) TEMPEL, (MET GRIEKSE BETEKENISSE VD WOORD "TEMPEL"), GAAN NA:
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die oprigting vd (3de) tempel is iets waarna baie mense uitsien, wat sal gebeur in die laaste dae voor Jesus terugkom.  Alhoewel daar geen skrif is wat dit in soveel woorde verklaar nie, is daar skrifte wat na hierdie tempel verwys. Sommige mense verwys na hierdie komende tempel as "die tempel vd antichris" omdat die Antichris in die tempel van God as God sal gaan sit en voorgee dat hy God is (2 Thess. 2:1-4), maar natuurlik is dit nie 'n tempel vd Antichris nie maar inderdaad 'n TEMPEL VAN GOD.  Daar is ook 'n verwysing na hierdie tempel in Openb. 11:1,2 - ("En ‘n riet soos ‘n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap"). Volgens Openb. 11 wil dit voorkom of die 2 getuies hulle verskyning sal maak na die oprigting vd tempel... Of die twee tydperke wat daar beskryf word (van 42 maande en 1260 dae) na dieselfde of verskillende tydperke verwys, is natuurlik 'n punt van interpretasie;  maar as dit na twee tydperke verwys dan sal die tempel opgerig word en 42 maande verbygaan, en dan sal die twee getuies hulle verskyning maak (en dan vir die volgende 1260 dae getuig).  Hierdie is die tipiese 7 jaar waarna somtyds verwys word wanneer daar gepraat word oor die laaste dae... Die OPRIGTING VD TEMPEL is dus 'n groot gebeurtenis wat vele dinge aan die gang sit, en sal dus as 'n teken gesien word dat ons ons in die laaste dae bevind net voor Jesus terugkom. 

Sommige geleerdes sien hierdie tempel as dieselfde tempel waarvan geprofeteer word in die boek van Esegiël (ook genoem die "Millenium tempel"-Eseg. 40 - 48)(Hab. 2:20), maar meeste Christen geleerdes is van mening dat daar onderskei moet word tussen die 3de tempel van Openb. 11 en hierdie toekomstige Esegiël tempel. Wat wel duidelik is is dat die tempel van Eseg. verwys na 'n tempel in die tyd waarin Jesus Christus regeer, en kan o.a. voorgestel word soos Christus se troon/paleis (die tyd nadat Israel herstel is - na die wederkoms - in die "volgende eeu")(vgl. dit ook met Sag. 6:12-15), terwyl die derde tempel van Openb. 11 verwys na 'n tempel in die laaste dae voor Jesus terugkom (m.a.w., voor die wederkoms - in "hierdie eeu")(die tempel waarin die antichris sal gaan sit en maak asof hy God is). 

Openb. 11 verklaar dat die volgende tempel in die heilige stad (Jerusalem) sal wees. Na die verwoesting vd tweede tempel (70 n.C.) was daar geen fisiese tempel van God in Jerusalem nie (m.a.w., vir die laaste 2000 jaar). Christene het nie hierdie as 'n probleem gesien nie omdat die wedergeborene se liggaam immers gesien word soos 'n tempel (2 Kor. 6:16; Joh. 14:17; Ef. 3:17) - want God is by hulle teenwoordig deur Sy Gees.  Dit beteken egter nie dat die toekomstige derde tempel wat in Jerusalem gebou gaan word nie 'n tempel van God is nie - natuurlik sal dit wees!, maar in hierdie bedeling ("hierdie eeu") was die tempel teenwoordig op 'n meer geestelike manier deurdat weergeborenes die Heilige Gees ontvang.  In die volgende eeu (in Jesus Christus se Ryk)(Openb. 20) sal die bedeling weer anders daarna uitsien, en dan sal die Eseg. tempel prominent wees;  en na die 1000-Ryk (nuwe hemel en aarde - Openb. 21) sal daar geen tempel wees nie, want die nuwe stad Jerusalem sal uit die hemel neerdaal op die aarde en gesien word as die "tabernakel van God"... (Openb. 21:22).  (Doen gerus 'n studie oor tabernakel/tempel, om beter te verstaan die doel van 'n tempel  - wat terloops veral beteken het dat "God by hulle was"!, en is gesien as 'n "huis van gebed";  daarom was dit ook genoem "huis van God" of "tent van samekoms"...). 

Of 'n derde tempel nodig is in hierdie bedeling is dus natuurlik 'n punt van redenasie, maar so 'n tempel sou miskien eerder gesien kon word soos ons 'n kerkgebou sien ('n plek van samekoms/aanbidding-Mark. 11:17 ens.).  Wat die Here se teenwoordigheid aanbetref is Hy reeds teenwoordig deur Sy Heilige Gees (daarom word die weergeborene se liggaam gesien soos 'n tempel) - die Christen hoef nie 'n fisiese tempel van God te besoek om die teenwoordigheid vd Here te ervaar nie (en besoek terloops ook nie 'n kerkgebou vir daardie rede nie).  Wat die offerstelsel aanbetref is daar niks verkeerd met offers aan die Here bring nie, maar ons moet verstaan dat ons nie gered kan word deur daardie offers nie - God het 'n beter plan bewerk deur Sy Seun Jesus Christus... En al sou so 'n derde tempel gesien kan word as 'n huis van gebed vir alle nasies (Luk. 19:46; Jes. 56:7), beteken dit nie dat almal hulle verskillende afgode daar kan aanbid nie (nee, God is 'n jaloerse God!) - afgodediens mag nie in Sy tempel toegelaat word nie (2 Kon. 21).  
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking