Sommige inligting rondom eindtyd studies gaan oor INTERPRETASIE.

Daarom word verskillende interpretasies met die tyd bygevoeg waar geleerdes oor iets verskil, of somtyds word 'n verwysing gegee na 'n ander interpretasie - per geleentheid word 'n interpretasie verder bespreek.


Donderdag 15 Julie 2021

Die 2 getuies


Wie is die 2 getuies van wie ons lees in Openb. 11? 
  Wanneer presies gaan hulle hul verskyning maak?,
en Wat is hulle doel?
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Wat ons kan leer oor die 2 GETUIES in Openb. 11, is die volgende:
-  hulle word twee olyfbome  genoem (v.4);
-  hulle word twee kandelaars genoem (v.4);
-  hulle word  twee profete genoem (v.10).

Geleerdes redeneer al lank oor wie presies die 2 getuies van Openb. 11 is, maar die Skrif gee nie definitiewe sekerheid hieroor nie. Verwys hulle na die 2 gesalfdes/olyfbome in Sag. 4? Verwys hulle na persone of volke? 

Daar word heelwat afleidings gemaak van wie hulle is, bv., sommige beweer dat die 2 getuies verwys na Moses en Elia (Matt. 17:3; Mal. 3:1);  ander glo weer hulle verwys na Elia en Henog (Gen. 5:24); ander glo hulle verwys na die Hebreeuse volk en die Christelike kerk en vgl. hierdie 2 groepe dan met die "olyfbome en kandelare";  en sommige glo selfs dat een vd twee na Daniel verwys (Dan. 12:13)....  Niemand kan egter op hierdie stadium met sekerheid sê wie presies die 2 getuies is of sal wees nie. Ons weet wel dat dit verwys na 2 getuies en profete, en dat hulle buitengewone mag sal kry, en weet ook wanneer hulle sal optree.
=======================================================================
Wat is die doel/sal die doel wees van die 2 getuies?
Dit wil voorkom of hierdie 2 getuies nie net sal getuig en profeteer nie, maar sal ook iets soos "oordele" kan uitoefen, bv. hulle sal mag kry om die wat hulle probeer beskadig te verslind (Openb. 11:5,6) - hulle sal ook mag hê om die hemel te sluit sodat in die dae van hulle profesie daar geen reën val nie; hulle sal ook mag hê oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae.... 

Die twee getuies is PROFETE en hulle doel is om te GETUIG (Openb. 11:3), en dit lyk of hulle gestuur word om die mensdom te waarsku teen die oordeel wat aan die kom is wanneer Jesus Christus, die Seun van God,  terugkom (want wanneer Hy terugkom sal dit anders wees as toe Hy die eerste keer gekom het, want toe Hy die eerste keer gekom het het Hy nie gekom om te oordeel nie, maar nou gaan Hy).  

Die 2 GETUIES (profete) sal dus:
 profeteer en getuig:- (Openb.11:3)  "En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend twee honderd en sestig dae lank sal profeteer".
 sekere magte kry:- (Openb. 11:5,6)  "En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier gedood word. Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil". 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Nog ander feite rondom die 2 GETUIES:
-  hulle sal getuig nadat die tempel opgerig is (Openb. 11:1);
-  wanneer die voorhof buitekant die tempel aan die heidene gegee is (wie die heilige stad dan vir 42 maande lank sal vertrap)(v. 2);
-  die 2 getuies sal met sakke bekleed wees (v.3);
-  die 2 getuies sal vir 1260 dae lank profeteer (v.3).
 
Wanneer presies is die dae van hulle getuienis?
-  Een feit wat beslis vir ons geleer word van die tyd wanneer hulle gesien sal word (met sakke bekleed en getuig), is dat dit sal geskied NADAT DIE TEMPEL OPGERIG IS (kyk v. 1 hoe die tempel opgemeet word...).

Waar gaan die 2 getuies hierdie getuienis doen?
-  In die HEILIGE STAD. 
Hierdie feit word vir ons gegee in v. 2.  Die vraag is nou na watter stad "heilige stad" verwys?, en natuurlik is die antwoord JERUSALEM (wat altyd na verwys word as die heilige stad). Die stad Jerusalem was van altyd af so gesien, in "hierdie eeu" (Neh. 11:1,18; Dan. 9:24; Matt. 4:5), en sal ook so wees in die "volgende eeu" (Jes. 52:1) maar ook tot in ewigheid die "heilige stad" wees (nuwe Jerusalem)(Openb. 21:1,2). En alhoewel dit "groot stad" genoem word in v. 8, asook daar geestelik genoem word "Sodom en Egipte" (vgl. miskien met Jer. 23:14), verklaar v. 8 dat dit DIE STAD IS WAARIN ONSE  HERE GEKRUISIG IS. (Openb. 11:8 - "en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is") - so dus, Jerusalem!

------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Verdere opmerkings oor die 2 getuies, en interpretasies:
Selfs die vgl. wat gemaak word dat die 2 getuies verwys na 2 gesalfdes in Sag. 4:11, is ook slegs interpretasie.-(Sag. 4:11,12 - "Daarop het ek begin spreek en aan hom gesê: Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regterkant van die kandelaar en aan die linkerkant daarvan? En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van die ganse aarde staan").  Daar kan beslis waarde geheg word aan die verskillende interpresties, maar ons moet versigtig wees om leringe te bou hier rondom siende dit verdraaide leringe tot gevolg kan hê sou 'n interpretasie verkeerd wees.

Een interpretasie waarin baiemaal ingekyk word is die waar die woord "kandelaar" (wat in Openb. 2 in beeldspraak gebruik word vir Christelike kerke) in aanmerking geneem word. ((Openb. 2:1)  "Skryf aan die engel van die gemeente in Éfese: Dít sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars"... En dan v.5: "Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie. Vgl. dit ook met: (Openb. 1:20 - "die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes").  In hierdie skrifgedeelte is dit bv. duidelik dat die woord "kandelaar" gebruik kan word vir "gemeente", en 'n afleiding kan maklik gemaak word dat die een kandelaar verwys na bv. die Christelike kerk en die ander na die Joodse volk (siende die 2 getuies "kandelaars" genoem word), maar neem kennis dat die 2 kandelaars (of getuies) in Openb. 11 ook 2 profete genoem word en dus miskien eerder verwys na 2 persone, nie groepe nie;  alhoewel sommige ook nie hierdie as 'n probleem beskou nie siende beide die Joodse volk en die Christelke kerk gesien word as 'n "profetedom". Die feit dat hulle doodgemaak word en na 3 dae opgewek word, kan miskien ook vgl. word met gelowiges wat doodgemaak word en opstaan uit die dode wanneer Christus terugkom.  OP DIESELFDE WYSE kan daar gekyk word na die term "2 olyfbome" (Openb. 11:4 verwys bv. na die 2 getuies as die "2 olyfbome"). Daar is ook 'n bepaalde beeldspraak oor olyfbome in die skrif. Die volk Israel word bv. voorgestel as 'n olyfboom (Hos. 14:6; Rom. 11:24).  Dawid het homself gesien as 'n groen olyfboom in die huis van God... (Ps. 52:8). (Jer 11:16 - "Die HERE het jou die naam gegee: groen olyfboom, skoon deur mooi gevormde vrugte; maar by die geluid van ‘n groot gedruis het Hy ‘n vuur daarteen aangesteek, en sy takke het gebreek"). Hulle is soos 'n boom wat deur die Here geplant is, maar omdat hulle nie na Sy woorde geluister het nie (Jer. 11:3) het Hy onheil oor hulle gebring (v.11) en die ongelowige takke is afgebreek (Rom. 11:20) en plek is gemaak vir ander takke wat uit die heidene kom (Rom. 11). Die heiden word voorgestel as 'n wilde olyfboom in Rom. 11:17.  Heidene wat tot geloof kom word afgekap van die wilde olyfboom en ingeënt op die mak olyfboom (word deel vd nageslag van Abraham)(Rom. 11:24)... Dit is a.g.v. hierdie soort beeldspraak waarom sekere geleerdes van mening is dat die 2 olyfbome in Openb. 11 verwys na :
-  die volk Israel, en na
-  die Christene uit die heidene;  maar ander sal redeneer dat Christene uit die heidene nie werklik verwys na 'n ander olyfboom nie maar hulle word eerder  ingeënt op die mak olyfboom (die volk Israel) - dus deel vdaardie boom...  Maar soos ons sien is hierdie alles afleidings en vergelykings, en slegs een van die vele interpresies daarbuite.

Die siening dat hierdie "2 olyfbome" of "kandelaars" verwys na die gelowiges uit die volk Israel en na die Christene uit die heidene, word deur die meerderheid bevraagteken siende die 2 getuies op 'n baie spesifieke manier voorgestel word (bv. met sakke bekleed) in Openb. 11 wat lyk of dit eerder verwys na 2 letterlike mense, 2 PROFETE - en nadat hulle doodgemaak is het hulle LYKE op straat gelê... (Openb. 11:9). Meeste is van mening dat die 2 getuies dus na 2 persone verwys (nie 2 groepe nie).

Die waarheid is dat niemand op hierdie stadium sekerheid het oor wie presies die 2 getuies is in Openb. 11 nie. 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------


OPSOMMING:
-  Niemand weet presies wie die 2 getuies gaan wees nie (maar daar is heelwat interpretasies);
-  Hulle gaan profete wees en mag kry (om sommige oordele uit te voer);
-  Hulle sal optree in die dae NADAT die tempel gebou is (in Jerusalem).  Interpretasies verskil egter oor wanneer presies dit gebeur onder die 7 seels, wat beteken dat daar nie sekerheid is oor of die 2 getuies sal optree tydens die Groot Verdrukking, en of dit 'n aparte periode van 1260 dae gaan wees vd 42 mnd.e, en of hierdie periodes mekaar gaan oorvleuel nie. 


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking