Sommige inligting rondom eindtyd studies gaan oor INTERPRETASIE.

Daarom word verskillende interpretasies met die tyd bygevoeg waar geleerdes oor iets verskil, of somtyds word 'n verwysing gegee na 'n ander interpretasie - per geleentheid word 'n interpretasie verder bespreek.


Saterdag 05 Februarie 2022

Uur van beproewing

 In die brief aan die gemeente van Filadelfía (Openb. 3:7-13) het Christus 'n interessante verklaring gemaak waarin Hy verwys na 'n tyd wat oor die hele wêreld sal kom, genoem:

"die uur van beproewing".
Om te verstaan wat met hierdie "uur van beproewing" bedoel word, moet ons gaan kyk na
wat die doel is daarvan,
en wie presies nou eintlik deur dit sal gaan.  
_________________________________________________________________________________

-  Wat is die doel van hierdie "uur van beproewing"?
Vir die antwoord hierop kan ons kyk na Openb. 3:10:  -"Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel". Maar natuurlik soos ons sien in hiedie gedeelte sal nie alle bewoners op die aarde op OP DIE PROEF GESTEL word nie, of is dit wat die skrif bedoel? Dit is hoe ons dit graag wil verstaan, maar let op dat die woorde "bewaar in" gebruik word (beteken nie noodwendig hulle sal dit "vrygespring" nie!).  Daar is 'n groep mense wat in hierdie "uur van beproewing" bewaar sal word...(Openb. 3:10)(sal vasgehou/opgepas word).

Die woorde "uur van beproewing" verwys na 'n tyd van VERSOEKING.  Om die tema van "op die proef stel" beter te verstaan moet ons gaan kyk na die tema van "versoeking" - bestudeer gerus die pos getiteld "Versoeking/Beproewing" - (http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/08/bewaar-in-die-uur-van-beproewing.html). Versoeking gaan oor "om op die proef te stel".  Wanneer iemand nie die versoeking of beproewing deurstaan nie, struikel hy of  "val af"!  Deur versoeking kan presies gesien word wat in iemand se hart aangaan. Dit is m.a.w. die toestand van elkeen se hart wat bepaal OF HULLE VERSOEKING KAN DEURSTAAN of nie. Niemand van ons wil versoek word nie, want ons weet maar te goed dat daar baie dinge in ons harte is waaraan ons werk op die pad van godsaligheid. Die skrif leer bv. vir ons dat iemand deur sy eie begeerlikhede weggesleep en verlok word...  Christus het ook baie gepraat oor dit wat in die hart aangaan en o.a. verklaar dat dit dinge is wat uit die hart uit kom, wat iemand onrein maak (Matt. 15:18). Die tema vd "besnydenis van die hart" was nog altyd baie belangrik in beide die ou, en veral die nuwe testament!  Die gelowige wat AFVALlig word van God, is die met 'n bose en ongelowige hart... (Hebr. 3:12) - vgl. dit gerus ook met die tyd van "AFVAL" waarvan gepraat word in 2 Thess. 2:3, wat net voor en/of rondom dieselfde tyd sal afspeel wanneer die mens van sonde of seun van verderf geopenbaar word... (http://eindtydonderwerpe.blogspot.co.nz/2017/08/want-eers-moet-die-afval-kom.html). Ons kan dus aflei, en dit wil dus voorkom of hierdie "UUR VAN BEPROEWING" iets te doen het met die AFVAL waarna verwys word in 2 Thess. 2:3 - dit sal 'n tyd wees van "versoeking", waarin baie versoek en getoets sal word.  M.a.w., die wat in daardie tyd VERSOEK/BEPROEF word sal getoets word, en hulle harte sal bepaal of hulle AFVALLIG word of nie... Natuurlik hou dit verband met verdrukking en vervolging vir die wat VASSTAAN, maar baie gelowiges sal val vir valse christusse en profete (en valse leerstellings), en "AFVAL" in hierdie uur van beproewing (versoeking) (2 Pet. 2:1; Matt. 24:24). 'n Bose of ongelowige hart veroorsaak dat iemand afval in tye van beproewing - 'n goeie vb. word gegee in die gelykenis van die saaier waarin Christus verklaar wat gebeur met die Christen met 'n ongelowige hart, en Hy verklaar het dat dit verwys na die wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor, maar net vir 'n tyd glo! (Luk. 8:13) - EN LET WEL DIE WOORDE WAT HY DAAR GEBRUIK: ".....en in die tyd van versoeking val hulle af (v.13c)". Een so vb van iemand met 'n "bose hart", was die van Simon in Hand. 8:13-23 (waar dit gaan oor iemand wat die krag vd Gees begeer omdat hy dit wil gebruik vir eie gewin). Vgl. dit ook met wat die Skrif vir ons leer oor die laaste dae in 2 Tim. 3:1-9 en Jak. 5:3.

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
WIE IS DIT WAT VASGEHOU/OPGEPAS SAL WORD IN DIE UUR VAN BEPROEWING?
Aan wie word hierdie belofte gemaak in Openb. 3?:
- DIE WAT DIE HERE SE WOORD BEWAAR: (Openb. 3:10 - "Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel").
- DIE WAT SY NAAM NIE VERLOëN NIE: (Openb. 3:8 - "Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie").

M.a.w., die wat opgepas sal word verwys na die wat (1) vashou aan die Woord en (2) bereid is om hulle lewens te verloor ter wille vd Here...  Dit verwys na gelowiges wat GEREED IS wanneer Jesus terugkom... As ons bv. gaan kyk na wat die woorde om GEREED TE WEES beteken in die Skrif, verwys dit in konteks na die wat "ryk is in die Here", die wat "nie die Here verloen nie en bereid is om hulle lewens vir Hom af te le", en "die wat die wil vd Here ken en dit doen". Maar die wat "slaap" sal bv. nie gereed wees nie - hulle is soos mense wat nie weet wat rondom hulle aangaan nie (want hulle slaap!), en verwys in konteks (bv. in Ef. 5) na ongehoorsame gelowiges wat nie wandel soos kinders van die lig nie... Omdat hulle besig is met die werke vd duisternis wandel hulle nie op die pad van lig nie en kan dus nie voor hulle sien nie - hulle "sien" nie die pad mooi nie a.g.v. sondes, afgodspraktyke ens. Hulle verloën die Here deur agter afgode en afgodspraktyke aan te gaan, en hou nie vas aan Sy woord nie deur te doen wat hulle wil. 

GEBED kan help dat ons NIE in versoeking kom nie - (Luk 11:4b - ".....en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose"). Christus het vir ons hierdie waarheid geleer.  Gebed kan ons beskerm teen versoeking - kyk na die vb. in Luk. 22:46 en Mark. 14:38 (voor Christus gevange geneem was), hoe Hy die dissipels aangemoedig het om "TE BID" - Hoekom?  -"dat hulle nie in VERSOEKING kom nie"  (Mar 14:38 - "Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak"). Dit beteken egter nie dat die wat wel tyd in gebed spandeer nooit versoek sal word nie, maar wat dit ook kan beteken is dat die wat wel tyd in gebed spandeer die krag sal he om versoeking te deurstaan (soos Christus versoek is in die woestyn). Die wat tyd in gebed spandeer verkry krag en wysheid om ten spyte van versoeking VAS TE STAAN. Ons weet goed dat die Here ons harte en denke verander wanneer ons in Hom bly, en ons krag gee vir wat ons moet doen (Joh 15:5 - "Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie"). Christus het elke versoeking deurstaan, ook wanneer sommige uit die Fariseers en Sadduseers Hom probeer versoek het deur woorde (met die doel dat hulle Hom wou "laat val"), en telkens het Hy die krag gehad om vas te staan en die wysheid om hulle terug te antwoord (Matt. 16:1; 19:3; 22:19,35).  

Die probleem met "versoeking" (of beproewing) is dat dit iemand kan "laat struikel of afval" - daarom wil niemand van ons beproef word nie, want ons weet hoe ons harte somtyds verkeerd kan wees. Besnydenis vd hart is dus baie belangrik vir die Christen, en Christene wat nie ag gee op hierdie pad van godsaligheid nie, kan maklik val vir versoeking.  Gelowiges word nooit bo hulle kragte versoek nie , want die Here sal nooit toelaat dat hulle bo hulle kragte versoek word nie... (1 Kor. 10:13 - "Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra").  Maar ons moet verstaan dat dit die begeerlikhede van die hart is wat kan veroorsaak dat iemand verlok en versoek word, en des te meer hoe belangrik gebed is en om ons denke te vernuwe en ons gedagtes te plaas op die dinge daarbo.  Let ook op die konteks van 1 Kor. 10:13 - kyk veral na verse 6 en 14: (1Kor. 10:6 - "En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie).  Die manier hoe die gelowige hom/haarself beskerm teen versoeking, is deur gebed en deur om ag te gee op die pad van godsaligheid. Hierdie is die mense (gelowiges) wat in die "uur van beproewing" opgepas sal word want hulle het gewys dat hulle lydsaamheid het en vashou en bereid is om hulle lewens vir die Here af te le.

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
OPSOMMING:
Kyk ons dus  na die gemeente van Filadelfía, dan is daar sekere gelowiges daar aan wie Christus belowe het dat hulle in die uur van beproewing bewaar sal word (Openb. 3:8,10,11) - nie dat Hy die beproewing bring nie (Jak. 1:13), maar Hy laat dit toe en sal hulle beslis daarteen beskerm en/of hulle in hierdie tyd BEWAAR (oppas). In daardie sin het Hy vir hulle 'n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie!  Dit kan natuurlik beteken dat hulle in daardie "uur" nie versoek sal word soos die ander nie (sodat hulle nie getoets word nie),  of dit kan beteken dat Hy hulle die krag sal gee om die versoeking te verdra... (en hulle op daardie manier bewaar).  Dit beteken egter nie dat hulle geen verdrukking ly nie!, want dit is tog duidelik dat hierdie gemeente weet wat dit is om te ly en ten spyte van verdrukking Sy woord bewaar het en Sy Naam nie verloën het nie! "Beproewing" beteken nie "verdrukking" nie (alhoewel beproewing kan lei daartoe dat iemand verdruk word - d.w.s., die een wat nie AFVAL weens beproewing nie...).

Maar hierdie belofte van om bewaar te word in die uur van beproewing (hetsy vry te spring of bewaar te word midde dit), word slegs aan sekere Christene gemaak;  en nee, hierdie verwys NIE na die wegraping voor die groot verdrukking soos sommige leer nie!  As ons verstaan wat presies met "verdrukking" bedoel word, dan sal ons verstaan dat geen Christen gevrywaar is van verdrukking en vervolging nie.  (Joh 15:20 - "Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar").  Dit is ook interessant om te sien dat waar daar van "die afval" gepraat word in 2 Thess. 2:1-3, die KONTEKS van daardie skrif gaan oor hoe die Here vir hulle verligting sal gee wanneer Hy terugkom....- verligting van wat?  -van VERDRUKKING!  Die feit dat die Here sal toelaat dat sommige die "uur van beproewing" vryspring, beteken nie dat hulle nie verdruk sal word nie, maar wat dit beteken is dat hulle miskien nie op daardie manier VERSOEK / BEPROEF sal word, of dat krag sal kry om dit te deurstaan.  (1Kor. 10:13 - "Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra").

Kom ons kyk wie dit is aan wie die Here Jesus hierdie belofte gemaak het (dat hulle nie deur die uur van beproewing sal gaan nie):
-  die met min krag (m.a.w., hulle sal nie bo hulle kragte versoek word nie!);

-  die wie Sy woord bewaar (bv., die wat hulle nie wend tot afgodsdiens nie-Deut. 33:9/Eks. 32:25-29; en die wat hulle voete terughou vd verkeerde pad, m.a.w. "ag gee op die godsaligheid"-Ps. 119:101; en die wat die waarheid bewaar en dit nie verdraai of verander om te wees "die oorlewering van mense" nie-Mark. 7:13; en die wat die woord ter harte neem-Luk. 11:27-30; en die wat glo in Christus Jesus, dat Hy die Seun van God is en glo in die waarheid wat Hy gebring het-Joh. 8:46-51 en 17:6-8; en die wat Christus Jesus KEN en Sy gebooie bewaar-Joh. 14:21-23 en 1 Joh. 2:3-5; en die wat die waarheid wat die dienskneg van die Here bring, ontvang-Joh. 15:20);

-  die wat nie Sy Naam verloën nie (m.a.w., die wat die Here vrees eerder as wat hulle vrees dat hulle doodgemaak word-Matt. 10:28-33;  en die wat bereid is om hulle lewens te verloor ter wille van die koninkryk-Matt. 16:24,25; en die wie se werke wys dat hulle die Here KEN-Tit. 1:16; en die wat nie Sy waarheid verloen nie-2 Pet. 2:1 en Jud. 1:4);

-  die wat die woord van Sy lydsaamheid bewaar (m.a.w., die hoop wat deur lydsaamheid kom-Rom. 5:4 en 15:4 - wat l.w., "deur verdrukking kom"!-Rom. 5:3; en om die goeie stryd van die geloof te stry deur ag te gee op die pad van godsaligheid en vergenoeg te wees, m.a.w. om eerder die wil van die Here te doen wat beteken dat ons lyding moet verdra...-2 Thess. 3:5 en 1 Tim. 6:11 en 2 Tim. 3:10 en Tit. 2:2 en Hebr. 10:36 en Jak. 1:1-5;  en dus "hulle wat VERDRA-Jak. 5:11; 2 Pet. 1:6; Openb. 2:3; Openb. 2:19; en die wat lyding verdra ter wille van die woord, selfs tot die dood-Openb. 13:10; 14:12);

-  die wat VASHOU! (m.a.w. die wat vashou aan die Here se wysheid, nie wereldse wysheid nie-Spr. 3:18 en Openb. 2:14,15; en die wie Sy woorde vashou, m.a.w. Sy gebooie onderhou-Spr. 4:4; en die wat aan die Here vashou deur Hom te vrees-Ecc. 7:18; en die wat vashou aan reg en geregtigheid en aan Sy verbond -Jes. 56:1,2,4 en Dan. 11:32; en die wat vashou aan die waarheid en Christus se leringe, nie die wat vashou aan menslike leringe nie-Mark. 7:3 en 1 Kor. 11:2; en die wat vashou aan die evangelie en die geloof in Christus Jesus, die belydenis van hoop, en 'n goeie gewete-1 Kor. 15:2 en Fil. 2:16 en Kol. 2:19 en 1 Tim. 1:19 en Tit. 1:9 en Hebr. 3:6,14 en 4:14 en 10:23).
_________________________________________________________________________________

(Jak. 1:2)  Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val,
(Jak. 1:3)  omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.
(Jak. 1:4)  Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.
(Jak. 1:5)  En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking