Sommige inligting rondom eindtyd studies gaan oor INTERPRETASIE.

Daarom word verskillende interpretasies met die tyd bygevoeg waar geleerdes oor iets verskil, of somtyds word 'n verwysing gegee na 'n ander interpretasie - per geleentheid word 'n interpretasie verder bespreek.


Woensdag 09 Augustus 2017

Die maat van sondes wat vol word...

Die term  "sonde wat vol word" was nie 'n onbekende begrip vir die Hebreeuse volk nie (Gen. 15:16; Dan. 9:24).  Reeds van die vroegste tye was sulke woordgebruik gebruik as 'n maatstaf vir sonde of ongeregtigheid toestand (Gen. 15:16).  In Matt. 23:32 het Jesus Christus 'n soortgelyke term gebruik (teenoor die Skrifgeleerdes en Fariseers) waarin Hy die maat van hulle ongeregtighede aanspreek (Matt. 23:28):  - "Maak die maat van julle vaders dan vol!" (v.32).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Ook Paulus gebruik soortgelyke woorde in 1Thess. 2:16- ..." deurdat hulle ons verhinder om tot die heidene te spreek dat hulle gered kan word, sodat hulle die maat van hulle sondes gedurig vol kan maak. Maar die toorn het oor hulle gekom tot die einde toe". Asof hulle sondes en ongeregtighede gemeet word tot dit vol word ...! Maar die vraag wat ons moet vra is, "wat gebeur wanneer dit vol is?".

Volgens Dan. 8:23 is dit ook wanneer "die goddelose die maat volgemaak het", wat 'n koning sal optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan... En ons weet dat in die dae van hierdie koning die einde van die wereld naby is. Ook in Dan. 9:24 word hiervan melding gemaak: - "Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf". Dit wil voorkom asof God altyd wag "tot die sonde vol" is voor Hy 'n plek vernietig  - kyk  bv. na "Sodom en Gemorra" en die "sondvloed"...  Op dieselfde wyse wat die sonde vol geword het voor Sodom en Gemorra vernietig is, en die sonde vol geword het voor die sondvloed, sal dit wees in die laaste dae: 
(Luk 17:26)  En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens:
(Luk 17:27)  hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het.
(Luk 17:28)  Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou.
(Luk 17:29)  Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig.
(Luk 17:30)  Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.

Net soos in die dae van Noag, en in die dae van Lot, so sal dit wees in die laaste dae. Die maat van sonde (en ongeregtigheid) sal vol word!  Ons kan dit moontlik ook vgl. met 2 Thess. 2:3 waarin verklaar word dat die AFVAL eers moet plaasvind, en die mens van sonde geopenbaar word, voor die wederkoms sal plaasvind - (alhoewel die afval waarna verwys word in 2 Thess. 2:3 nie noodwendig verwys na Christene wat afvallig word nie, maar ook kan verwys na nie-Christene, en kan ook verwys na "dit wat verlate gestel word" - soos die gruwel vd verwoesting). God se wraak op die mensdom en op die aarde, het te doen met die feit dat die "sonde vol" word (http://eindtydonderwerpe.blogspot.co.nz/2017/06/wanneer-is-die-einde-van-die-wereld-en.html).   Dit is die mens se sonde en ongeregtigheid wat die aarde ontheilig (Jes. 24:1-5), en wanneer Christus terugkom, sal Hy kom in vuur! (http://eindtydonderwerpe.blogspot.co.nz/2017/06/nuwe-hemele-en-nuwe-aarde-die-here-sal.html).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Kom ons kyk hoe word die maat van die sondes volgemaak... 
Daar is heelwat skrifte wat vir ons 'n prentjie skets van hoe dit sal lyk IN DIE LAASTE DAE:

-  daar sal mense wees wat spot oor die wederkoms van die Here Jesus en moedswillig nie ag gee op die waarheid nie, maar stap volgens eie begeerlikhede (2 Pet. 3:3);
-  daar sal sedelose mense wees wat dwaalleringe verkondig (2 Pet. 2:7; 3:17);
-  daar sal valse christusse wees wat mense probeer verlei om agter 'n valse messias aan te gaan (Matt. 24:24; Mark. 13:22);
-  dit sal wees soos in die dae van Noag, en soos in die dae van Lot (sal meer besig wees met die lewe as met die Here)(Luk. 17:28; Matt. 24:37,38; Luk. 17:26);
- sommige sal Christene probeer mislei deur voor te gee asof die dag van Christus al daar is, maar die wederkoms sal nie plaasvind voor die afval en voor die seun van verderf openbaar word nie (2 Thess. 2:2);
-  in daardie tyd sal hulle sê "vrede en veiligheid" - mense sal hulle hoop plaas in wêreldse vrede en veiligheid (1 Thess. 5:3);
-  swaar tye:  -mense sal liefhebbers wees van hulleself, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God, mense wat 'n gedaante het van godsaligheid maar die krag daarvan verloen het (2 Tim. 3:1);
-  mense sal deur allerhande begeerlikhede gedryf word - "die wat altyd leer en nooit tot kennis van die waarheid kom nie" - hulle sal die waarheid teestaan;  verdorwe in die verstand en onbetroubaar ten opsigte van die geloof (2 Tim. 3:1-7);
- goddelose mense en bedrieers - hulle sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word (2 Tim. 3:13);
-  sal weet om goed te doen, maar dit nie doen nie! (Rom. 1:32);
-  sal skatte vergader;  rykdom en besittings sal belangrik wees (Jak. 5:3);
-  sal weelderig en losbandig lewe (2 Pet. 2:13; Jak. 5:5; Openb. 18:7,9);
-  valse profete en valse leraars wat verderflike ketterye invoer en die Here verloen (2 Pet. 2:1);
- baie mense sal die valse profete en valse leraars se verderflikhede navolg en a.g.daarvan sal die weg van die waarheid gelaster word (2 Pet. 2:2);
-  uit hebsug sal die valse profete en valse leraars baie voordeel uit gelowiges trek met gebruik van verdigte woorde (2 Pet. 2:3). 
.........ens.
---------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking